Sport

Stof solank jou Vuvuzela af

Deur Tharina Els

Gooi jou sente in jou spaarvarkie en oefen solank hoe om jou vuvuzela te bespeel. Op 14 Julie 2010 skop Bloemfontein se sokkermanie af met die eerste van ses groepwedstryde wat in hierdie stad beslis word. Ons sal ongelukkig moet wag vir die loting op 4 Desember om te weet wie hier gaan speel,  maar dit blyk dat Bafana Bafana op 22 Junie 2010 ‘n Bloemfonteinse draai gaan maak.
Die tweede fase van kaartjieverkope het op 4 Mei ‘n aanvang geneem. Jy het tot 16 November kans om ‘n kaartjie op ‘n eerste-daar-eerste-gehelp-basis te bekom. Na die loting op 4 Desember begin ‘n derde fase, wat dieselfde aansoekprosedure as tydens die eerste fase sal herhaal.
Kaartjiepryse vir die Bloemfonteinse wedstryde wissel van R140 vir ‘n sitplek agter die doelhokke tot R 1 120 vir ‘n sitplek langs die veld. Kaartjies vir rolstoelgangers is R140. Daar is plek vir sowat 45 000 mense in die stadium.
FIFA maan alle sokkergeesdrigtiges om op hul pasoppens vir bedrieglike e-posse en ander slenters te wees. Slegs maatskappye wat ‘n kommersiële band met FIFA het, mag kompetisies hou waar kaartjies as pryse aangebied word. Jy kan die lys maatskappye by http://www.fifa.com onder oë neem. As jy enige kwellinge rondom die geldigheid van jou kaartjie het, kan jy die organiseerders by enquiries@2010fwctc.com kontak.
As jy een van die wedstryde gaan bywoon, onthou dat jy kontraktueel verbind is tot die stadium se gedragskode. Dit behels dat jy geen wapens, alcohol of glasbottels met jou mag saamneem nie. Daarby mag jy slegs ‘n kamera vir privaatgebruik inneem (en dan ook net met een stel ekstra batterye).  Jy moet jouself te alle tye gedrag op ‘n wyse wat nie steurend of aanstootlik vir jou medekykers gaan wees nie.

Please leave a comment
Name  
Surname  
Comment